Monday, 5 August 2013

My Oupa en Ouma se Plaas


Ons het in die week na een van Robbie Wessels se shows gaan kyk, en wat ek die meeste daarvan hou is dat hy voor elke liedjie n bietjie gesels en se waaroor die liedjie gaan en waarvan daan dit kom. Toe hy so oor sy plaas dae praat, dink ek toe terug na my eie plaas dae op my Oupa en Ouma se plaas tussen Volksrust en Amersfoort.

Ouma het elke oggend n pot pap gemaak. ‘n MOEWIESSSSSSE pot pap, want almal moes daarvan eet. Lekker pap, met botter, suiker en melk en ook n bietjie bederf met gekerfde biltong stukkies oor… mmmmmmm. As die mense in die huis geeet het, is dit die honde en duisende plaas katte se beurt. En dit wat oorbly gaan in die varke se emmer in.

Nou die varke se emmer het iets van alles in gehad, daai varke het enige ding geeet. Maar my ouma het altyd gese daar mag geen lemoenskille ingaan nie, want dis die enigste ding wat die varke nie eet nie. Daar was n varkwaentjie waarop hierdie emmers vol mengelmoeskos gestaan het en ek kon altyd n lift op die waentjie kry na die varkhokke toe terwyl Ouma die waentjie sleep.

Eiers uithaal was nogal heel pret, om in al die verskillende hokkies te kyk en te soek vir die eiers. Daar was twee hokke en my broer moes altyd by die een ingaan waar die skop hoenderhaan in was, want ek was bitter bang vir daai kwaai hoenderhaan.

In n gedeelte veld langs die plaashuis was verskriklik baie groot klippe. Ons het gereeld soontoe gegaan en dan huis-huis gespeel. Hierdie klip het n holte soos n bad, so dis die badkamer. Daardie klip is lank en plat, so dis die bed. So kon ons ons vir ure vermaak en ons verbeeldings gebruik om verskillende vertrekke en meubels uit die klippe te maak.

Ek en my broer het graag op die bale gespring en gespeel, en ons het ook binne in die stroper geklim en bo-op die gestroopde mieliepitte gespeel en gegrawe. Trekker ry saam my Oupa was ook altyd n hoogtepunt. En dit was so lekker om die lammertjies bottels melk te gaan gee in die oggend.

My Oupa het aan die wasgoeddraad twee swaaie vas gemaak vir die kleinkinders. Ons wou altyd vinniger en vinniger en vinniger om gaan, en dit het natuurlik vir ouma gehelp want die wind het die wasgoed vinniger laat droog word.

Toe my Oupa begin siek word het en hy stadig maar seker oppad uit was, was die besluit geneem om die plaas te verkoop, want Ouma kon nie alleen daar bly nie. Dit was n lang en hartseer proses.

Ek wou nog se… Al is die plaas nou weg, sal die herineringe nooit kon verkoop word met die plaas nie.

No comments:

Post a Comment